Intracoastal Waterway

In Pamlico County, Noord-Carolina, word die Intracoastal Waterway deur die Hobucken-brug oorspan. Die brug maak deel uit van die staatsroetes 33 en 304
Die Dismal Swamp Canal in die Great Dismal Swamp-streek van Noord-Carolina en Virginië is die oudste mensgemaakte kanaal in die Verenigde State wat steeds in gebruik is
Die Wando Welch-houerterminaal, Charleston, Suid-Carolina
'n Houerskip verlaat die Charleston-seehawe
Die waterweg is op verskeie plekke oorbrug. Die foto wys die Gordon Persons-brug oor Dauphin-eiland en die waterweg in Mobile, Alabama
Naby New Orleans kruis die Intracoastal Waterway die Bayou Perot (aan die foto se linkerkant; regs vlei die Bayou die Salvadormeer (Lake Salvador) binne
Die waterweg in die suide van Texas, afgeneem deur bemanningslede van die INternasionale Ruimtestasie ISS

Die Intracoastal Waterway (ICW) is 'n waterweg langs die Atlantiese Ooskus van die Verenigde State. Die waterweg, wat volgens 'n besluit van die Amerikaanse Kongres vanaf 1919 gebou en in 1940 voltooi is, het 'n lengte van 3 000 myl (4 800 km) en verbind Boston in Massachusetts as Atlantic Intracoastal Waterway met Key West in Florida. Dit strek as Gulf Intracoastal Waterway vanaf Appalachee in Florida verder weswaarts tot Brownsville in Texas. Die ICW word deur die U.S. Army Corps of Engineers onderhou. Die onderhoud vereis dat dele van die waterweg gereeld uitgebagger word om die vereiste dieptegang vir watervoertuie van twaalf voet te verseker.

Enkele seksies van die waterweg bestaan uit natuurlike inhamme, soutwaterriviere, baaie en seestrate, ander dele daarvan is as kanale aangelê. Die waterweg bied 'n veilig bevaarbare roete waarlangs bote en skepe en hul bemannings nie aan die gevare van die oop see blootgestel is nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die waterweg 'n uiters belangrike roete vir die vervoer van militêre vragte omrede dit buite die operasiegebied van vyandelike duikbote was.

Die waterweg is tolvry vir privaat plesierbote; vir kommersiële watervoertuie moet brandstofbelasting betaal word. Die waterweg se besigste gedeelte is langs die nywerheidsgebiede van Norfolk in Virginië geleë.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy